14050 next 14051 14051 \\DIE DORDTSE LEERREëLS\\ Die beslissing van die Nasionale Sinode van die Gereformeerde Kerke van die Verenigde Nederlande, wat in die jare 1618 en 1619 in Dordrecht gehou is oor die bekende vyf leerstellings waaroor in die Gereformeerde Kerke van hierdie Verenigde Nederlande verskil ontstaan het. \- Hoofstuk 1 Goddelike uitverkiesing en verwerping: 1-18 14052 Verwerping van die dwalings waardeur die Nederlandse Kerke 'n tyd lank in beroering gebring is: 1-9 14053 Hoofstuk 2 Die dood van Christus en die verlossing van die mense deur sy dood: 1-9 14054 Verwerping van die dwalings: 1-7 14055 Hoofstuk 3 & 4 Die verdorwenheid van die mens, sy bekering tot God en die wyse waarop dit plaasvind 14056 Verwerping van die dwalings 14057 Hoofstuk 5 Die volharding van die Heiliges 14058 Verwerping van die dwalings oor die leer van die volharding van die heiliges 14059 14052 \\Hoofstuk 1 Goddelike uitverkiesing en verwerping (1-18)\\ 1. Alle mense het in Adam gesondig en hulle skuldig gemaak aan die vloek en die ewige dood. Daarom sou God niemand veronreg het as dit sy wil was om die hele menslike geslag in die sonde en vervloeking te laat bly en vanweë die sonde te veroordeel nie. Daarom leer die apostel: "... die hele wêreld is strafwaardig voor God" (\\#Rom 3:19\\). "... almal het gesondig, en hulle het nie deel aan die heerlikheid wat God vir die mens bestem het nie" (\\#Rom 3:23\\) en: "Die loon wat die sonde gee, is die dood ..." (\\#Rom 6:23\\). 2. Die liefde van God is egter hierin geopenbaar dat Hy sy eniggebore Seun in die wêreld gestuur het, "... sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê" (\\#Joh 3:16; 1Joh 4:9.\\) 3. Om mense tot geloof te bring, stuur God uit louter goedheid verkondigers van hierdie vreugdevolle boodskap na wie Hy wil en wanneer Hy wil. Deur hulle diens word die mense geroep tot bekering en geloof in Christus, die gekruisigde, want: "... hoe kan jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie? En hoe kan jy van Hom hoor sonder iemand wat preek? En hoe kan iemand preek as hy nie gestuur is nie? ..." (\\#Rom 10:14,15\\). 4. Die toorn van God bly op hulle wat hierdie evangelie nie glo nie. Hulle wat die evangelie egter aanneem en die Verlosser, Jesus, met 'n ware en lewende geloof omhels, word deur Hom van die toorn van God en van die verderf verlos, en Hy skenk hulle die ewige lewe (\\#Joh 3:36; Mark 16:16\\). 5. Die oorsaak of skuld van daardie ongeloof, net soos van alle ander sondes, lê beslis nie by God nie, maar by die mens. Die geloof in Jesus Christus en die saligheid deur Hom is egter 'n genadegawe van God. Soos geskrywe is: "Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is die gawe van God" (\\#Ef 2:8\\). En so ook: "God het julle die voorreg gegee om Christus te dien, nie alleen deur in Hom te glo nie, maar ook deur vir Hom te ly" (\\#Fil 1:29\\). 6. Dat God aan sommige mense in die tyd die gawe van die geloof skenk en aan ander dit nie skenk nie, volg uit sy ewige besluit. Immers: "Aan God is al sy werke van ewigheid af bekend" (\\#Hand 15:18\\), "... Hy wat alles laat gebeur volgens sy raadsbesluit" (\\#Ef 1:11\\). Volgens hierdie besluit maak God genadiglik die harte van die uitverkorenes ontvanklik - hoe verhard hierdie harte ook al mag wees - en buig hulle om tot geloof. Hulle wat egter nie uitverkies is nie, laat Hy volgens sy regverdige oordeel in hulle boosheid en verharding bly. Hierin veral kom vir ons tot openbaring die diepe, barmhartige en tegelyk regverdige onderskeiding tussen die mense wat almal ewe verlore is. Dit is die besluit van die uitverkiesing en verwerping wat in die Woord van God geopenbaar is. Verkeerde, onreine en onstandvastige mense verdraai hierdie leer tot hulle eie verderf, maar aan die heiliges en godvresendes gee dit 'n onuitspreeklike troos. 7. Hierdie uitverkiesing is 'n onveranderlike voorneme van God. Daarvolgens het Hy nog voor die skepping 'n sekere aantal mense uit die hele menslike geslag uitverkies. Hierdie menslike geslag het deur hulle eie skuld van hulle oorspronklike ongeskondenheid in sonde en verderf verval. Die uitverkorenes is dus nie beter of waardiger as die ander nie, maar verkeer saam met die ander in die gemeenskaplike ellende. Nogtans het Hy hulle, uit volkome vrye welbehae van sy wil en uit louter genade, tot die saligheid in Christus uitverkies. God het Christus ook van ewigheid af tot Middelaar en Hoof van al die uitverkorenes en tot Fondament van die saligheid gestel. So het Hy ook besluit om die uitverkorenes aan Christus te gee om hulle salig te. maak. Deur sy Woord en Gees roep en trek God die uitverkorenes kragdadiglik tot gemeenskap met Hom. Hy het dus besluit om aan die uitverkorenes die ware geloof in Christus te gee, hulle te regverdig en te heilig en om hulle, wat kragtig in die gemeenskap van sy Seun bewaar word, uiteindelik as bewys van sy barmhartigheid en tot lof van sy oorvloedige en heerlike genade te verheerlik. Soos geskrywe is: "So het Hy, nog voordat die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees. In sy liefde het Hy ons, volgens sy genadige beskikking, toe ook al daarvoor bestem om deur Jesus Christus sy kinders te wees. Daarom moet ons God prys vir sy groot genade wat Hy in sy geliefde Seun vrylik aan ons geskenk het" (\\#Ef 1:4,5,6\\). En elders: "Dié wat Hy daartoe bestem het, het Hy ook geroep. En dié wat Hy geroep het, het Hy ook regverdig verklaar. Dié wat Hy regverdig verklaar het, het Hy ook verheerlik" (\\#Rom 8:30\\). 8. Hierdie uitverkiesing is nie veelvoudig nie, maar een en dieselfde vir almal wat salig word, in die Ou sowel as in die Nuwe Testament. Die Skrif verkondig immers aan ons net een welbehae, voorneme en raad van die wil van God. Hiervolgens het Hy ons van ewigheid af uitverkies tot die genade sowel as tot die heerlikheid, tot die saligheid sowel as tot die weg van die saligheid wat Hy voorberei het, sodat ons daarin kan wandel (\\#Ef 1:4-5; 2:10\\). 9. Hierdie uitverkiesing het nie op grond van vooruitgesiene geloof, geloofsgehoorsaamheid, heiligheid of enige ander goeie hoedanigheid of geskiktheid van die mens tot stand gekom nie. Dit alles kan nooit vooraf as rede of voorwaarde vir die uitverkiesing van die mens vereis word nie. Die uitverkiesing is immers die oorsaak van geloof en geloofsgehoorsaamheid, heiligheid, ensovoorts. Daarom is die uitverkiesing die fontein van alle saligheid waaruit geloof, heiligheid en al die ander saligmakende gawes, en uiteindelik die ewige lewe self, as vrugte en gevolge daarvan voortvloei. Die apostel getuig immers: Hy het ons uitverkies "... om heilig en onberispelik voor Hom te wees" (\\#Ef 1:4\\), en nie ómdat ons alreeds so was nie. 10. Die oorsaak van hierdie genadige uitverkiesing is inderdaad slegs die welbehae van God. Dit bestaan nie daarin dat Hy uit alle moontlikhede, sekere menslike hoedanighede of dade as 'n voorwaarde vir die saligheid uitgekies het nie. Dit bestaan wel hierin dat Hy sekere bepaalde mense uit die hele menigte van sondaars as sy eiendom aangeneem het. Soos geskrywe is: "Toe haar kinders nog nie gebore was nie en ook nog niks goeds of kwaads gedoen het nie, toe is al vir haar (nl Rebekka) gesê: 'Die oudste sal die jongste dien.' Daar staan ook geskrywe: 'Jakob het Ek liefgehad, maar Esau het Ek gehaat."' (\\#Rom 9:11-13\\); en: "Almal wat vir die ewige lewe bestem was, het gelowig geword" (\\#Hand 13:48\\). 11. God self is alwys, onveranderlik, alwetend en almagtig, en daarom kan sy daad van uitverkiesing nie ongedaan gemaak, oorgedoen, verander, herroep of afgebreek word nie. Die uitverkorenes kan ook nie verwerp of in getal verminder word nie. 12. Die uitverkorenes word op God se tyd van hulle ewige en onveranderlike uitverkiesing tot saligheid verseker. Dit gebeur verskillend en nie vir almal in gelyke mate nie. Hierdie versekering ontvang hulle nie as hulle nuuskierig die verborgenhede en dieptes van God probeer deursoek nie. Hulle ontvang die sekerheid egter as hulle in hulleself die onfeilbare vrugte van die uitverkiesing, soos in die Woord van God aangewys, met geestelike blydskap en heilige vreugde waarneem. Hierdie onfeilbare vrugte van die uitverkiesing is die ware geloof in Christus, die kinderlike vrees van God, die droefheid oor die sonde volgens die wil van God, die honger en dors na die geregtigheid, ensovoorts (\\#2Kor 13:5\\). 13. Vir die kinders van God is die besef en die sekerheid van hierdie uitverkiesing daagliks steeds meer rede om hulle voor die aangesig van God te verootmoedig, om die diepte van sy barmhartigheid te aanbid, om hulleself te reinig en om Hom, wat hulle eerste so uitnemend liefgehad het, ook van hulle kant vurig lief te hê. Dit is dan ook onmoontlik dat hierdie leer van die uitverkiesing en die besinning daaroor die kinders van God sal laat ophou om die gebooie van God te gehoorsaam of dat hulle onverskillig sou word deur 'n sondige lewe te lei. Deur die regverdige oordeel van God is dit juis die geval met hulle wat die genade van die uitverkiesing ligtelik vir hulleself toe-eien of ydellik en ligsinnig daaroor praat, sonder dat hulle begeer om in die weë van die uitverkorenes te wandel. 14. Hierdie leer van die Goddelike uitverkiesing is verder, volgens die wyse besluit van God, deur die profete, deur Christus self en deur die apostels in sowel die Ou as die Nuwe Testament verkondig. Daarna is dit in die heilige Skrifte bekend gemaak en bewaar. Daarom moet dit vandag nog op die regte tyd en plek in die kerk van God - waarvoor dit in die besonder bestem is - uiteengesit word. Hierdie leer moet egter oordeelkundig, met gelowige eerbied en heilige ontsag, sonder 'n nuuskierige ondersoek na die weë van die Allerhoogste, verkondig word. Dit alles moet gebeur tot eer van die heilige Naam van God en tot 'n lewende troos vir sy volk (\\#Hand 20:27; Rom 12:3; 11:33,34; Heb 6:17,18\\). 15. Verder toon die heilige Skrif hierdie ewige en onverdiende genade van ons uitverkiesing baie duidelik aan en verkondig dit nadruklik aan ons. Dit getuig bowendien dat nie alle mense uitverkies is nie, maar dat sommige nie uitverkies is nie of in die ewige uitverkiesing van God verbygegaan is. God het besluit om hulle, na sy volkome vrye, regverdige, onberispelike en onveranderlike welbehae, in die gemeenskaplike ellende te laat bly. Daarin het hulle hulleself deur hulle eie skuld gestort. God het immers besluit om nie aan hulle die saligmakende geloof en die genade van die bekering te gee nie. Om sy geregtigheid te openbaar, het God besluit om hierdie mense aan hulleself oor te laat, hulle onder sy regverdige oordeel te laat bly en om hulle nie alleen oor hulle ongeloof nie, maar ook oor al hulle ander sondes te veroordeel en ewig te straf. Dit is die besluit van die Verwerping, wat God hoegenaamd nie tot bewerker van die sonde maak nie, want dit sou 'n godslasterlike gedagte wees. Inteendeel, dit sê juis dat God 'n gedugte, onberispelike en regverdige Regter is wat die sonde straf. 16. Hulle wat die lewende geloof in Christus, die vaste vertroue, die gewetensrus, die beoefening van kinderlike gehoorsaamheid en die roem in God deur Christus nog nie ten volle ervaar nie - ofskoon hulle die middele gebruik waardeur God hulle beloof het om hierdie dinge in ons te bewerk - moet nie mismoedig word wanneer hulle van die verwerping hoor nie. Hulle moet hulleself ook nie onder die verworpenes reken nie, maar ywerig voortgaan om die middele te gebruik, vurig verlang na die tyd van oorvloediger genade en dit ook met eerbied en ootmoed verwag. Hulle wat ernstig begeer om hulle tot God te bekeer, om Hom alleen gehoorsaam te wees en van die liggaam van die dood verlos te word, maar op die pad van die vroomheid en die geloof nog nie so ver gekom het as wat hulle wel wou nie, behoort nog minder die leer van die verwerping te vrees. Die barmhartige God het immers beloof dat Hy die dowwe lamppit nie sal uitblus en die geknakte riet nie sal verbreek nie. Maar hierdie leer is tereg verskriklik vir almal wat God en die Verlosser, Jesus Christus, verag en hulleself geheel en al aan wêreldse sorge en sondige begeertes oorgegee het. Dit sal so bly solank hulle hulle nie met erns tot God bekeer nie. 17. Die Woord van God, waaruit ons die wil van God leer ken, getuig daarvan dat die kinders van die gelowiges heilig is. Hulle is nie van nature heilig nie, maar kragtens die genadeverbond waarin hulle saam met hulle ouers opgeneem is. Gelowige ouers moet daarom nie twyfel aan die uitverkiesing en saligheid van hulle kinders wat God in hulle kinderjare uit hierdie lewe wegneem nie (\\#Gen 17:7; Hand 2:39; 1Kor 7:14\\). 18. Teen iemand wat oor hierdie genade van die onverdiende uitverkiesing en gestrengheid van die regverdige verwerping in opstand is, stel ons die woorde van die apostel: "Mens, wie is jy per slot van rekening dat jy met God wil redeneer? ..." (\\#Rom 9:20\\); en ook die woorde van ons Saligmaker: "Of staan dit my nie vry om met my eie goed te maak wat ek wil nie?" (\\#Matt 20:15\\). Maar ons wat hierdie verborgenhede godvresend en met eerbied aanbid, roep saam met die apostel uit: "O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele, hoe onnaspeurlik sy weë! 'Wie ken die bedoeling van die Here? Wie gee Hom raad? Wie bewys Hom 'n guns sodat Hy verplig is om iets terug te doen?' Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid! Amen" (\\#Rom 11:33-36\\). 14053 \\Verwerping van die dwalings waardeur die Nederlandse Kerke 'n tyd\\ \\lank in beroering gebring is (1-9)\\ Die regsinnige leer van die uitverkiesing en verwerping is nou uiteengesit. 1. Die Sinode verwerp daarom die dwaling van hulle wat leer: Die hele en volledige besluit van die uitverkiesing tot saligheid is God se wil om daardie mense salig te maak wat nog sal glo en in die geloof en geloofsgehoorsaamheid sal volhard. Oor hierdie besluit is daar niks anders in die Woord van God geopenbaar nie. Die Sinode leer: Die dwaalleraars mislei hiermee die opregtes en hulle weerspreek duidelik die heilige Skrif. Die Skrif getuig immers dat God nie alleen hulle wat sal glo, wil salig maak nie, maar dat Hy ook sekere bepaalde mense van ewigheid af uitverkies het. God het aan hierdie mense, in onderskeiding van ander, in die tyd die geloof in Christus en die volharding geskenk. Soos geskrywe is: "Ek het u Naam bekend gemaak aan die mense wat U My uit die wêreld gegee het" (\\#Joh 17:6\\); en: "Almal wat vir die ewige lewe bestem was, het gelowig geword" (\\#Hand 13:48\\). "So het Hy, nog voordat die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees" (\\#Ef 1:4\\), ensovoorts. 2. Die Sinode verwerp die dwaling van hulle wat leer: Die uitverkiesing van God tot die ewige lewe is veelsoortig: die een is algemeen en onbepaald, die ander is besonder en bepaald. Laasgenoemde val weer in twee dele uiteen: Dit is òf 'n onvolkome, herroeplike, nie-beslissende en voorwaardelike uitverkiesing, óf 'n volkome, onherroeplike, beslissende en volstrekte uitverkiesing. Verder: Daar is een uitverkiesing tot die geloof en 'n ander tot die saligheid, dit wil sê daar kan 'n uitverkiesing tot die regverdigmakende geloof wees sonder dat daar 'n beslissende uitverkiesing tot saligheid hoef te wees. Die Sinode leer: Dit is 'n versinsel van die menslike verstand wat buite die Skrif om uitgedink is. Dit vernietig die leer van die uitverkiesing en verbreek hierdie goue ketting van ons saligheid. "Dié wat Hy daartoe bestem het, het Hy ook geroep. En dié wat Hy geroep het, het Hy ook regverdig verklaar. Dié wat Hy regverdig verklaar het, het Hy ook verheerlik" (\\#Rom 8:30\\). 3. Die Sinode verwerp die dwaling van hulle wat leer: Die welbehae en voorneme van God, waarvan die Skrif in die leer van die uitverkiesing melding maak, bestaan nie daarin dat God sekere, bepaalde mense bo ander uitverkies het nie. Dit bestaan daarin dat God uit alle moontlike voorwaardes - soos byvoorbeeld die werke van die wet - of uit die orde van alle dinge, die wesenlik onverdienstelike daad van die geloof en die onvolmaakte gehoorsaamheid daarvan tot 'n voorwaarde vir die saligheid uitverkies het. Dit sou Hy dan genadiglik wou reken as 'n volkome gehoorsaamheid en dit waardig ag om met die ewige . lewe te beloon. Die Sinode leer: Hierdie skadelike dwaling maak die welbehae van God en die verdienste van Christus kragteloos. Terselfdertyd word die mense deur nuttelose vrae van die waarheid van die genadige regverdigmaking en van die eenvoud van die Skrif weggelei. Daarmee word hierdie uitspraak van die apostel as onwaar bestempel: "Hy het ons gered en ons geroep om aan Hom toegewy te wees. Dit het Hy gedoen, nie op grond van ons dade nie, maar op grond van sy eie besluit en die genade wat Hy van ewigheid af in Christus Jesus aan ons geskenk het" (\\#2Tim 1:9\\). 4. Die Sinode verwerp die dwaling van hulle wat leer: Die voorwaarde wat vir die uitverkiesing tot die geloof vereis word, is dat die mens die lig van die natuur reg moet gebruik en vroom, klein, nederig en geskik vir die ewige lewe moet wees - asof die uitverkiesing op die een of ander manier van hierdie dinge sou afhang. Die Sinode leer: Dit klink na Pelagius en is in stryd met die leer van die apostel waar hy skrywe: "So het ons trouens vroeër ook almal gelewe. Ons is deur ons sondige begeertes oorheers en het gedoen net waartoe ons luste ons gelei het en wat in ons gedagtes opgekom het. Vanweë ons sondige natuur sou ons net soos die ander mense deur God gestraf moes word. Maar God is ryk in barmhartigheid en het ons innig lief. Deur sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredinge, saam met Christus weer lewend gemaak. Uit genade is julle gered! Ja, in Christus Jesus het Hy ons saam met Hom opgewek uit die dood en saam met Hom 'n plek in die hemel gegee, sodat God ook in die tye wat kom, sou laat sien hoe geweldig groot sy genade is deur die goedheid wat Hy in Christus Jesus aan ons bewys het. Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is die gawe van God. Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie" (\\#Ef 2:3-9\\). 5. Die Sinode verwerp die dwaling van hulle wat leer: Die onvolkome en nie-beslissende uitverkiesing van spesifieke mense tot saligheid het tot stand gekom uit die vooruitgesiene geloof, bekering, heiligheid en vroomheid, wat òf net begin het òf al 'n tyd lank geduur het. Die volkome en beslissende uitverkiesing het egter tot stand gekom uit die volharding in die vooruitgesiene geloof, in bekering, in heiligheid en in vroomheid tot die einde toe. Dit is die waarde van die genade en die evangelie waarvolgens hy wat uitverkies word, waardiger is as hy wat nie uitverkies word nie. Die geloof, geloofsgehoorsaamheid, heiligheid, vroomheid en volharding is dus nie vrugte of gevolge van die onveranderlike uitverkiesing tot heerlikheid nie, maar noodsaaklike voorwaardes en oorsake daarvan. In die geval van uitverkorenes, is dit vooraf vereis en vooruitgesien asof hulle dit reeds volbring het. Die Sinode leer: Dit is in stryd met die hele Skrif wat hierdie en dergelike uitsprake telkens weer in ons ore en harte inskerp: "Die besluit van God is gegrond op uitverkiesing; dit hang dus nie af van wat 'n mens doen nie, maar van Hom wat jou roep" (\\#Rom 9:11-13\\). "Almal wat vir die ewige lewe bestem was, het gelowig geword" (\\#Hand 13:48\\). Hy het ons "... in Christus uitverkies om heilig ... te wees" (\\#Ef 1:4\\). "Julle het My nie uitgekies nie, maar Ek het julle uitgekies ..." (\\#Joh 15:16\\). "Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes" (\\#1Joh 4:10\\). 6. Die Sinode verwerp die dwaling van hulle wat leer: Nie elke uitverkiesing tot saligheid is onveranderlik nie, maar sommige uitverkorenes kan verlore gaan en gaan inderdaad ook vir ewig verlore, nieteenstaande enige besluit van God. Die Sinode leer: Met hierdie growwe dwaling maak hulle God veranderlik en vernietig die troos wat die vromes uit die vastigheid van hulle uitverkiesing put. Ook weerspreek hulle die heilige Skrif wat leer dat die uitverkorenes nie verlei kan word nie (\\#Matt 24:24\\); dat Christus almal wat deur die Vader aan Hom gegee is, nie sal verloor nie (\\#Joh 6:39\\), en dat God die wat Hy vantevore verordineer, geroep en geregverdig het, ook verheerlik het (\\#Rom 8:30\\). 7. Die Sinode verwerp die dwaling van hulle wat leer: Daar is in hierdie lewe geen vrug, geen besef en geen sekerheid van die onveranderlike uitverkiesing tot heerlikheid nie, behalwe dié wat van 'n veranderlike en onsekere voorwaarde afhang. Die Sinode leer: Nie alleen is dit ongerymd om te beweer dat daar "n onsekere sekerheid is nie, maar dit stry ook met die ervaring van die heiliges. Uit die besef van hulle uitverkiesing verheug die heiliges hulle saam met die apostel en roem hulle in hierdie weldaad van God (\\#Ef 1\\). In gehoorsaamheid aan Christus verbly hulle hulle saam met die dissipels dat hulle name in die hemel opgeskrywe is (\\#Luk 10:20\\). Ook stel hulle die besef van hulle uitverkiesing teenoor die vurige pyle van aanvalle van die duiwel, terwyl hulle vra: '"Wie kan die uitverkorenes van God aankla?" (\\#Rom 8:33\\). 8. Die Sinode verwerp die dwaling van hulle wat leer: God het oor niemand bloot kragtens sy regverdige wil besluit om hom in die val van Adam en in die gemeenskaplike staat van sonde en verdoemenis te laat bly nie. Ook het Hy in die gee van die genade wat vir die geloof en bekering nodig is, besluit om niemand verby te gaan nie. Die Sinode leer: Dit staan vas: "... dat God Hom ontferm oor wie Hy wil, en dat Hy verhard wie Hy wil" (\\#Rom 9:18\\), en: "Aan julle is dit gegee om die geheime van die koninkryk van die hemel te ken, maar aan hulle is dit nie gegee nie" (\\#Matt 13:11\\), en: "Ek prys U, Vader, Here van hemel en aarde, dat U hierdie dinge vir slim en geleerde mense verberg het en dit aan eenvoudiges bekend gemaak het. Ja, Vader, so was dit u genadige bedoeling" (\\#Matt 1:25,26\\). 9. Die Sinode verwerp die dwaling van hulle wat leer: Dit is nie enkel en alleen die welbehae van God wat die oorsaak is waarom Hy die evangelie eerder na die een as na die ander volk stuur nie. Dit gebeur omdat die een volk beter en waardiger is as die ander aan wie die evangelie nie meegedeel word nie. Die Sinode leer: Dit ontken Moses as hy die Israelitiese volk soos volg toespreek: "Kyk, aan die HERE jou God behoort die hemel, ook die hoogste hemel, die aarde en alles wat daarin is. Maar net aan jou vaders het die HERE 'n welgevalle gehad om hulle lief te hê, en Hy het julle, hulle nageslag nß hulle, uit al die volke uitverkies, soos dit vandag is" (\\#Deut 10:14,15\\). En Christus het gesê: "Ellende wag vir jou, Gorasin! Ellende wag vir jou, Betsaida! As in Tirus en Sidon die wonderdade plaasgevind het wat in julle plaasgevind het, sou hulle hulle lankal in sak en as bekeer het" (\\#Matt 11:21\\). 14054 \\Hoofstuk 2 Die dood van Christus en die verlossing van die mense\\ \\deur sy dood (1-9)\\ 1. God is nie alleen in die hoogste mate barmhartig nie, maar ook in die hoogste mate regverdig. Sy geregtigheid - soos Hy Hom in sy Woord geopenbaar het - eis dat ons sondes, wat teen sy oneindige majesteit begaan is, nie alleen met tydelike nie, maar ook met ewige strawwe na siel en na liggaam gestraf moet word. Ons kan aan hierdie strawwe nie ontkom nie, tensy aan die geregtigheid van God voldoen word. 2. Ons self kan geen voldoening gee om ons van die toorn van God te bevry nie. Daarom het God uit oneindige barmhartigheid sy eniggebore Seun as borg aan ons gegee. Die Seun het vir ons, of in ons plek, sonde en vervloeking aan die kruis geword om vir ons te voldoen. 3. Hierdie dood van die Seun van God is die enigste en volmaakte offer en voldoening vir die sondes. Sy dood is van oneindige krag en waarde, oorvloedig genoeg om die sondes van die hele wêreld te versoen. 4. Hierdie dood het daarom so 'n groot krag en waarde, omdat Hy wat dit ondergaan het, nie alleen 'n ware en volkome heilige mens is nie, maar ook die eniggebore Seun van God. Hy is saam met die Vader en die Heilige Gees een en dieselfde ewige en oneindige Wese. So moes ons Verlosser dan ook wees. Boonop het sy dood so 'n groot krag en waarde, omdat Hy geweet het dat Hy die toorn van God en die vloek, wat ons deur ons sondes verdien het, gedra het. 5. Verder is dit die belofte van die evangelie dat elkeen wat in die gekruisigde Christus glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. Hierdie belofte moet aan alle volke en mense, aan wie God na sy welbehae die evangelie stuur, sonder enige onderskeid verkondig en bekend gestel word, met die eis tot bekering en geloof. 6. Baie wat deur die evangelie geroep is, bekeer hulle nie, glo nie in Christus nie, maar sterf in ongeloof. Dit gebeur, nie omdat die offer wat Christus aan die kruis volbring het, gebrekkig of onvoldoende is nie, maar deur hul eie skuld. 7. Almal wat egter waarlik glo en deur die dood van Christus van die sonde bevry en van die verderf gered word, ontvang hierdie weldaad slegs uit die genade van God. Hierdie genade is van ewigheid af in Christus aan hulle gegee, sonder dat Hy dit aan enigiemand verskuldig is. 8. Dit was immers die volkome vrye raadsbesluit, genadige wil en voorneme van God die Vader, dat die lewendmakende en saligmakende krag van die uiters kosbare dood van sy Seun al die uitverkorenes tot voordeel sal strek. So het God slegs aan die uitverkorenes die regverdigende geloof geskenk om hulle daardeur onfeilbaar salig te maak. Dit wil sê: Dit was die wil van God dat Christus deur die bloed van die kruis - waarmee Hy die nuwe verbond bevestig het - uit elke volk, stam, geslag en taal húlle en hulle alleen kragdadiglik sal verlos, wat van ewigheid af tot die saligheid uitverkies en deur die Vader aan Hom gegee is. Ook was dit die wil van God dat Christus aan hulle die geloof sal gee wat Hy, soos ook die ander saligmakende gawes van die Heilige Gees, deur sy dood vir hulle verwerf het. Verder, dat Hy hulle van al hulle sondes - sowel die erfsonde as die daadsonde wat nß en vóór die geloof begaan is - deur sy bloed sal reinig. Ten slotte, dat Hy hulle tot die einde toe getrou sal bewaar, en uiteindelik sonder enige vlek of rimpel in heerlikheid by Hom sal neem. 9. Hierdie raadsbesluit is die gevolg van God se ewige liefde vir die uitverkorenes. Die besluit word van die begin van die wêreld af tot vandag toe kragdadig uitgevoer ondanks die vergeefse verset van die magte van die doderyk. Hierdie besluit sal steeds uitgevoer word, sodat die uitverkorenes op die regte tyd in een liggaam vergader sal word. Daar sal altyd 'n kerk van gelowiges wees, gegrond in die bloed van Christus. Hierdie kerk moet sy Verlosser, wat sy lewe aan die kruis vir die kerk gegee het - soos 'n bruidegom sy lewe vir sy bruid sal gee - standvastig liefhê en Hom met volharding dien en van nou af tot in alle ewigheid verheerlik. 14055 \\Verwerping van die dwalings (1-7)\\ Die regsinnige leer is nou uiteengesit. 1. Daarom verwerp die Sinode die dwaling van hulle wat leer: God die Vader het sy Seun tot die kruisdood bestem sonder 'n sekere en besondere besluit om iemand sekerlik salig te maak. Die noodsaaklikheid, nuttigheid en waardigheid van die verdienste van die dood van Christus sou gevolglik ongeskonde, in alle dele volmaak, volkome en as een geheel kon bestaan, selfs al sou geen enkele mens ooit werklik gedeel het in die verlossing wat Hy verwerf het nie. Die Sinode leer: Hierdie leer verag die wysheid van God die Vader en die verdienste van Jesus Christus en is in stryd met die heilige Skrif. Ons Verlosser sê immers: "... Ek lê my lewe af vir die skape", en: "... Ek ken hulle ..." (\\#Joh 10:15,27\\). En die profeet Jesaja sê van die Verlosser: "... as sy siel 'n skuldoffer aangebied het, sal Hy 'n nakroos sien; Hy sal die dae verleng, en die welbehae van die Here sal deur sy hand voorspoedig wees" (\\#Jes 53:10\\). Verder weerspreek dit die geloofsartikel waarmee ons bely dat ons aan die kerk glo. 2. Die Sinode verwerp die dwaling van hulle wat leer: Dit was nie die doel van die dood van Christus om die nuwe verbond van die genade werklik deur sy bloed te bevestig nie. Dit was alleen maar om vir die Vader eenvoudig die reg te verwerf om opnuut met die mense 'n verbond van die genade of van die werke, net soos Hy wil, te kan sluit. Die Sinode leer: Dit is immers in stryd met die Skrif wat leer dat Christus Borg en Middelaar geword het van 'n beter, dit wil sê, van die nuwe verbond (\\#Heb 7:22\\) en dat 'n testament eers by 'n sterfgeval geldig is (\\#Heb 9:15,17\\). 3. Die Sinode 17erwerp die dwaling van hulle wat leer: Christus het deur sy voldoening vir niemand met sekerheid die saligheid verdien nie; ook nie die geloof waardeur hierdie voldoening van Christus kragdadiglik tot saligheid toegeëien word nie. Hy het, daarenteen, slegs die mag of die volkome wil vir die Vader verwerf om opnuut met die mense te handel en om nuwe voorwaardes, soos Hy wil, voor te skrywe. Die uitvoering daarvan sou van die vrye wil van die mens afhang. Dit sou dus kon gebeur dat òf niemand òf alle mense dit sou vervul. Die Sinode leer: Hierdie mense minag die dood van Christus volkome en aanvaar op geen wyse die vernaamste vrug of weldaad wat daardeur verkry is nie. Hulle roep weer die dwaling van Pelagius uit die hel terug. 4. Die Sinode verwerp die dwaling van hulle wat leer: God die Vader het 'n nuwe genadeverbond met die mense deur die tussenkoms van die dood van Christus gesluit. Hierdie verbond bestaan nie daarin dat ons deur ons geloof, vir sover dit die verdienste van Christus aanneem, voor God regverdig en salig gemaak word nie. Dit bestaan daarin dat God, nadat Hy die eis van die volmaakte gehoorsaamheid aan die Wet afgeskaf het, nou die geloof self en die onvolmaakte geloofsgehoorsaamheid as volmaakte gehoorsaamheid aan die Wet beskou en dit dan uit genade waardig ag om dit met die ewige lewe te beloon. Die Sinode leer: Hierdie mense weerspreek die Skrif: "Maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, in sy genade geregverdig deur die verlossing in Christus Jesus. Hom het God gegee as offer wat deur sy bloed versoening bewerk het vir dié wat glo ..." (\\#Rom 3:24-25\\). Met die goddelose Socinus voer hulle 'n nuwe en vreemde leer oor regverdiging van die mens voor God in. Dit is in stryd met die eenstemmige belydenis van die hele kerk. 5. Die Sinode verwerp die dwaling van hulle wat leer: Alle mense is in die staat van die versoening en in die genade van die verbond opgeneem, sodat niemand vanweë die erfsonde aan die verdoemenis skuldig is of verdoem moet word nie, maar dat alle mense van hierdie sondeskuld vry is. Die Sinode leer: Hierdie mening is in stryd met die Skrif wat verklaar dat ons vanweë ons sondige natuur deur God gestraf moes word (\\#Ef 2:3\\). 6. Die Sinode verwerp die dwaling van hulle wat die onderskeid tussen verwerwing en toe-eiening misbruik om by die onversigtiges en onervarenes die denkbeeld in te prent: Dat God, vir sover dit Hom betref, aan alle mense die weldade, wat deur die dood van Christus verkry word, in gelyke mate wou meedeel. Dat sommige die vergifnis van sondes en die ewige lewe deelagtig word en ander nie, hang van hulle vrye wil af wat hom aanpas by die genade wat sonder onderskeid aangebied word. Dit hang nie van die besondere gawe van die barmhartigheid af, wat kragdadig in hulle werk, dat hulle, anders as ander mense, dié genade vir hulleself sou toe-eien nie. Die Sinode leer: Daardie mense wat voorgee dat hulle hierdie onderskeiding reg voorstel probeer om die volk met die verderflike Pelagiaanse dwalings te vergiftig. 7. Die Sinode verwerp die dwaling van hulle wat leer: Christus kon en moes nie vir hulle gesterf het vir wie God volkome liefgehad en tot die ewige lewe uitverkies het nie. Inderdaad het Hy ook nie vir hulle gesterf nie, omdat hulle die dood van Christus nie nodig gehad het nie. Die Sinode leer: Hulle weerspreek die apostel wat sê: "... die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê" (\\#Gal 2:20\\). Met dieselfde strekking sê hy: "Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self verklaar hulle regverdig. Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf..." (\\#Rom 8:33,34\\), juis vir hulle. Hulle weerspreek ook die Heiland wat sê: "... Ek lê my lewe af vir die skape" (\\#Joh 10:15\\); "Dit is my opdrag: Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefhet. Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê" (\\#Joh 15:12,13\\). 14056 \\Hoofstuk 3 & 4 Die verdorwenheid van die mens, sy bekering tot God\\ \\en die wyse waarop dit plaasvind\\ 1. Die mens is van die begin af na die beeld van God geskape. Verstandelik was hy toegerus met ware en heilsame kennis van sy Skepper en van geestelike sake. In sy wil en hart was hy met geregtigheid toegerus en sy hele gesindheid was suiwer. Hy was dus volkome heilig. Maar deur die ingewing van die duiwel en uit sy eie vrye wil het hy hom van God losgeskeur en homself van hierdie uitnemende gawes beroof. Daarenteen het hy in die plek daarvan oor homself gebring: blindheid, verskriklike duisternis, ydelheid en verdorwenheid van verstandelike oordeel, boosheid, rebellie en hardheid van sy wil en hart, sowel as onsuiwerheid van sy hele gesindheid. 2. Net soos die mens nß die val was, so was ook die kinders wat hy voortgebring het. As verdorwene het hy verdorwe kinders voortgebring. Dit hou in dat die verdorwenheid, volgens die regverdige oordeel van God, van Adam af op al sy nakomelinge oorgegaan het. Net Christus is hierin 'n uitsondering. Die verdorwenheid van die mens ontstaan dus nie deur navolging, soos die Pelagiane vroeër beweer het nie, maar deur die voortplanting van die verdorwe natuur. 3. Alle mense word daarom in sonde ontvang en as kinders van die toorn gebore, onbekwaam tot enigiets goeds wat sou kon salig maak, geneig tot die kwaad, dood in die sonde en slawe van die sonde. Sonder die genade van die Heilige Gees, wat die wedergeboorte skenk, kan en wil hulle nie tot God terugkeer of hulle verdorwe natuur verbeter of onderneem om dit te verbeter nie. 4. Nß die sondeval het daar in die mens tog nog 'n bietjie van die lig van die natuur oorgebly. Daardeur het hy 'n mate van kennis van God, van die natuurlike dinge, van die onderskeid tussen die betaamlike en onbetaamlike bly behou en vertoon hy in sekere mate 'n strewe na deug en openbare gedissiplineerdheid. Vir die mens is dit egter onmoontlik om deur hierdie lig van die natuur tot die saligmakende kennis van God te kom en hom tot God te bekeer. Gevolglik kan hy selfs in natuurlike en burgerlike sake hierdie lig nie reg gebruik nie. Hoe ook al, veeleer verduister hy dit heeltemal op verskillende maniere en bedek dit in ongeregtigheid. Omdat hy dit doen, is daar voor God vir hom geen verontskuldiging nie. 5. Net soos met die lig van die natuur, so is dit ook gesteld met die Tien Gebooie wat God deur Moses in besonder aan die Jode gegee het. Die wet vlek wél die grootheid van die sonde oop en oortuig die mens hoe langer hoe meer van sy skuld, maar dit dui geen geneesmiddel aan en deel geen kragte mee om uit hierdie ellende te kom nie. Die wet het dus, omdat dit deur die sondige natuur kragteloos gemaak is, die oortreder onder die vloek laat bly. Daarom kan die mens nie deur die wet die saligmakende genade verkry nie. 6. Wat nie deur die lig van die natuur of deur die wet gedoen kan word nie, dit doen God deur die krag van die Heilige Gees, deur middel van die Woord of die bediening van die versoening. Dit is die evangelie van die Messias, waardeur God besluit het om die gelowiges in die Ou sowel as in die Nuwe Testament salig te maak. 7. Hierdie verborgenheid van sy wil het God in die Ou Testament aan min mense bekend gemaak, maar in die Nuwe Testament, waar die onderskeid tussen die volke nou weggeneem is, het Hy dit aan meer mense geopenbaar. Die oorsaak waarom hierdie bedeling so verskillend is, moet nie aan die waardigheid van die een volk bo die ander of aan die beter gebruik van die lig van die natuur toegeskryf word nie, maar aan die volledig vrye welbehae en onverdiende liefde van God. Daarom moet hulle wat sonder en teen enige verdienste so 'n groot genade deelagtig word, dit met 'n nederige en dankbare hart erken. Die ander wat hierdie genade nie ontvang nie, moet saam met die apostel die strengheid en regverdigheid van die oordele van God aanbid sonder om dit met nuuskierigheid te ondersoek. 8. Almal wat egter deur die evangelie geroep word, word in alle erns geroep. Want in alle ems en waarheid betuig God in sy Woord wat sy wil is: die geroepenes moet na Hom toe kom. In alle erns beloof Hy ook aan almal wat na Hom toe kom en glo, die rus vir hulle siele en die ewige lewe. 9. Baie mense wat deur die bediening van die evangelie geroep is, kom nie na Hom toe nie en word nie bekeer nie. Die skuld hiervoor lê nie in die evangelie of in Christus wat deur die evangelie aangebied is nie, ook nie in God wat mense deur die evangelie roep en aan hulle ook verskillende gawes gee nie. Die skuld lê by die geroepenes self. Sommige neem deur sorgeloosheid die Woord van die lewe nie aan nie. Ander neem dit wel aan, maar nie in die binneste van hulle hart nie, met die gevolg dat hulle nß 'n kortstondige blydskap van die tydelike geloof weer terugval. Ander weer, laat die saak van die Woord deur die dorings van die sorge en deur die welluste van die wêreld verstik en dra geen vrugte nie, soos ons Verlosser dit in die gelykenis van die saaier leer (\\#Matt 13:1-58\\). 10. Ander mense weer, wat deur die verkondiging van die evangelie geroep is, kom en word bekeer. Dit moet egter nie aan die mens toegeskryf word nie asof hy hom deur sy vrye wil van ander onderskei wat net so 'n groot of genoegsame genade tot geloof en bekering ontvang het. So stel die hooghartige kettery van Pelagius dit. Dit moet aan God toegeskryf word. Hy het hulle van ewigheid af in Christus as sy eiendom uitverkies. Hy roep almal kragdadig in die tyd en skenk hulle geloof en bekering. Nadat hulle uit die mag van die duisternis verlos is, bring Hy hulle oor in die ryk van sy Seun, om die deugde van Hom, wat hulle uit die duisternis tot sy wonderbare lig geroep het, te verkondig en om nie in hulleself nie, maar in die Here te roem. So getuig die Apostoliese geskrifte telkens. 11. Verder: wanneer God sy welbehae in die uitverkorenes tot uitvoering bring en die ware bekering in hulle werk, dan laat Hy die evangelie nie net uiterlik aan hulle verkondig nie. Hy verlig ook nie net hulle verstand kragtig deur die Heilige Gees, sodat hulle die dinge van die Gees van God reg verstaan en onderskei nie. Maar deur die kragtige werking van dieselfde Gees, wat die wedergeboorte skenk, dring Hy ook deur tot in die binneste dele van die mens, open Hy die geslote hart, versag Hy wat hard is en besny Hy wat onbesnede is. In die wil stort Hy nuwe eienskappe in en maak die wil, wat dood was, lewend; wat sleg was, goed; wat onwillig was, gewillig en wat ongehoorsaam was, gehoorsaam. Hy beweeg en versterk die wil sodat dit, soos 'n goeie boom, vrugte van goeie werke kan dra. 12. Dit is die wedergeboorte, die nuwe skepping, die opwekking uit die dood en die lewendmaking waarvan die Skrif so heerlik spreek wat God sonder ons in ons werk. Dit alles word glad nie deur die uiterlike prediking alleen, deur morele oorreding of op enige ander wyse in ons gewerk nie, sodat, nß die voltooiing van God se werk, dit dan in die mens se mag sou lê om weergebore te word of nie, om bekeer te word of nie. Dit is 'n volkome bonatuurlike, baie kragtige en tegelyk baie aangename, wonderlike, verborge en onbeskryflike daad van God. Volgens die getuienis van die Skrif wat deur Hom, die Outeur van hierdie werkinge, geïnspireer is, is dit in sy krag nie minder of geringer as die skepping of die opwekking van die dooies nie. Die gevolg is dat almal in wie se harte God op hierdie wonderlike wyse werk, sekerlik, onfeilbaar en kragdadig weergebore word en daadwerklik glo. Dan word die wil, wat nou vernuwe is, nie alleen deur God gedryf en beweeg nie, maar omdat dit deur God beweeg word, werk dit ook self. Daarom word ook tereg gesê dat die mens, deur die genade wat hy ontvang het, glo en hom bekeer. 13. Die aard van hierdie werking kan die gelowiges in hierdie lewe nie volkome begryp nie. Intussen is dit vir hulle 'n gerusstelling dat hulle weet en oortuig is dat hulle deur hierdie genade van God van harte glo en hulle Verlosser liefhet. 14. So is die geloof dan 'n gawe van God, nie omdat dit deur God aan die vrye wil van die mens aangebied word nie, maar omdat dit aan die mens inderdaad geskenk word en vir hom ingegee en ingestort word. Ook is dit nie so dat God net die vermoë om te glo gee nie en daarna van die vrye wil van die mens die instemming of die daadwerklike geloof verwag nie. Sowel die wil om te glo as die geloof self word in die mens tot stand gebring. Immers, Hy wat in die mens werk om te wil sowel as om te werk, bewerk alles in almal. 15. Hierdie genade is God aan niemand verskuldig nie. Wat sou God immers aan iemand skuld wat Hom vooraf niks kan gee nie en waarvoor hy dan vergoed moet word? Inderdaad, wat sou God aan die mens verskuldig wees wat self niks anders as sonde en leuens het nie? Dié mens wat hierdie genade ontvang, is aan God alleen ewige dankbaarheid verskuldig en hy dank God ook daarvoor. Die mens wat hierdie genade nie ontvang nie, heg geen waarde aan hierdie geestelike dinge nie en skep net in sy eie dinge behae, of beroem hom, sonder om na te dink, tevergeefs op wat hy het, terwyl hy niks het nie. Verder moet oor hulle wat hulle geloof in die openbaar bely en hulle lewe verbeter, volgens die voorbeeld van die apostels, baie gunstig geoordeel en gepraat word, want die binneste van die hart is aan ons onbekend. Vir die ander wat nog nie geroep is nie, moet ons tot God bid wat die dinge wat nie bestaan nie, roep asof hulle bestaan. Ons mag ons volstrek nie teenoor hulle in trotsheid verhef asof ons onsself in so 'n bevoorregte posisie geplaas het nie. 16. Die mens het egter deur die sondeval nie opgehou om 'n mens, toegerus met verstand en wil, te wees nie. Die sonde, wat die hele menslike geslag deurdring het, het die natuur van die mens nie weggeneem nie, maar dit bederf en in geestelike sin gedood. Daarom werk hierdie Goddelike genade van die wedergeboorte nie in die mense asof hulle stokke en blokke is nie; ook vernietig dit nie die wil en sy eienskappe nie, en dwing dit nie met geweld teen sy sin nie. Die genade maak die wil geestelik lewend, genees, verbeter en buig dit tegelykertyd lieflik en kragtig. Terwyl sondige opstandigheid en verset vroeër volkome oorheers het, begin 'n gewillige en opregte gehoorsaamheid aan die Gees nou die oorhand kry. Hierin lê die ware en geestelike vernuwing en die vryheid van ons wil. Inderdaad, as die wonderlike Werkmeester van alle goeie dinge nie so met ons gehandel het nie, dan sou die mens glad geen hoop hê om deur sy vrye wil uit die sondeval op te staan nie. Deur sy vrye wil het hy homself, toe hy nog gestaan het, in die verderf gestort. 17. Die almagtige werking van God, waardeur Hy ons natuurlike lewe skep en onderhou, sluit nie die gebruik uit van die middele waardeur God na sy oneindige wysheid en goedheid hierdie krag van Hom wil uitoefen nie, maar eis juis dat hulle gebruik sal word. Net so sluit hierdie bonatuurlike werking van God, waardeur Hy ons weergebore laat word, volstrek nie die gebruik van die evangelie uit en werp dit ook nie omver nie. Inteendeel, die alwyse God het dit tot 'n saad van die wedergeboorte en tot voedsel vir die siel bestem. Die apostels, en die leraars wat hulle opgevolg het, het dan ook die mense oor hierdie genade van God, tot sy eer en tot onderdrukking van alle hoogmoed, gelowig onderrig. Hulle het ook nie nagelaat om die mense ondertussen deur middel van heilige vermanings uit die evangelie, onder die bearbeiding van die Woord, van die sakramente en van die kerklike tug te hou nie. Net so moet hulle wat in die gemeente onderrig gee of die wat onderrig ontvang, hulle ook nie nou aanmatig om God te versoek deur die dinge te skei wat Hy na sy welbehae wou saamvoeg nie. Deur die vermanings word die genade immers gegee, en hoe gewilliger ons ons amp uitoefen, des te heerliker word die weldaad, wat God in ons werk, openbaar. So vorder God se werk op die allerbeste manier. Aan dié God alleen kom toe, vanweë die middele sowel as vanweë die verlossende vrug en krag daarvan, alle heerlikheid tot in ewigheid. Amen. 14057 \\Verwerping van die dwalings\\ Die regsinnige leer is nou uiteengesit. 1. Daarom verwerp die Sinode die dwaling van hulle wat leer: 'n Mens kan eintlik nie sê dat die erfsonde alleen voldoende is om die hele menslike geslag te veroordeel of om tydelike en ewige strawwe te verdien nie. Die Sinode leer: Hulle weerspreek immers die apostel wat sê: "Deur een mens het die sonde in die wêreld gekom en deur die sonde die dood, en so het die dood tot al die mense deurgedring, omdat almal gesondig het" (\\#Rom 5:12\\): en "Op die oortreding van die een mens het die oordeel gevolg en dit het tot veroordeling gelei ..." (\\#Rom 5:16\\), en: "Die loon wat die sonde gee, is die dood ..." (\\#Rom 6:23\\). 2. Die Sinode verwerp die dwaling van hulle wat leer: Die geestelike gawes of goeie hoedanighede en deugde soos goedheid, heiligheid en regverdigheid kon nie deel van die wil van die mens wees toe hy in die begin geskep is nie. Daarom kon dit in die sondeval ook nie van die wil geskei word nie. Die Sinode leer: Dit is in stryd met die beskrywing van die beeld van God wat, volgens die apostel in Efesiërs 4:24, in geregtigheid en heiligheid bestaan, en beide setel sonder twyfel in die wil. 3. Die Sinode verwerp die dwaling van hulle wat leer: Hierdie geestelike gawes is in die geestelike dood nie van die mens se wil geskei nie, aangesien die wil op sigself nooit verdorwe was nie. Dit is slegs deur die verduistering van die verstand en wisselvalligheid van die neigings verhinder. Wanneer hierdie hindernisse uit die weg geruim is, kan die wil dan weer sy vrye, aangebore krag uitoefen. Dit wil sê, dit kan allerhande goeie dinge wat hom voorgehou word, self wil en self kies of nie wil en nie kies nie. Die Sinode leer: Dit is 'n nuwigheid en 'n dwaling waardeur die kragte van die vrye wil verhef word, en dit téén die uitspraak van die profeet. "Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit ..." (\\#Jer 17:9\\), en van die apostel: "So het ons (nl die kinders van die ongehoorsaamheid) trouens vroeër ook almal gelewe. Ons is deur ons sondige begeertes oorheers en het gedoen net waartoe ons luste ons gelei het en wat in ons gedagte opgekom het" (\\#Ef 2:3\\). 4. Die Sinode verwerp die dwaling van hulle wat leer: Die mens wat nie weergebore is nie, is nie werklik en nie heeltemal dood in sondes nie. Ook is alle kragte om die geestelike goeie te doen hom nie ontneem nie. Hy kan nog honger en dors na die geregtigheid en die lewe en kan die offer van 'n verslae en gebroke gees, wat God welgevallig is, bring. Die Sinode leer: Hierdie opvattings stry teen die duidelike getuienisse van die Skrif: "Julle was dood as gevolg van julle oortredinge" (\\#Ef 2:1,5\\), en: "... al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg was" (\\#Gen 6:5; 8:21\\). Buitendien is honger en dors na bevryding uit die ellende, na die lewe, asook die offer van 'n gebroke gees aan God, slegs eie aan die wedergeborenes en aan hulle wat salig genoem word (\\#Ps 51:10; Matt 5:6\\). 5. Die Sinode verwerp die dwaling van hulle wat leer: Die verdorwe en natuurlike mens kan die algemene genade (waaronder hulle die lig van die natuur verstaan) of die gawes wat nß die sondeval nog in hom oorgebly het, tot sy heil gebruik. Deur dit só te gebruik, kan hy 'n groter genade, naamlik die evangeliese of verlossende genade en die saligheid self, geleidelik en trapsgewyse verkry. Op hierdie wyse betoon God Hom van sy kant bereid om Christus aan alle mense te openbaar. Hy het die middele wat vir die openbaring van Christus en vir geloof en bekering nodig is, aan almal genoegsaam en kragdadig geskenk. Die Sinode leer: Behalwe die ervaring van alle tye getuig die Skrif immers ook dat dit vals is, want "Hy maak sy woord aan Jakob bekend, sy voorskrifte en bepalings aan Israel. Dit het Hy vir geeneen van die ander nasies gedoen nie; hulle ken sy bepalings nie" (\\#Ps 147:19-20\\), en "Hy het in die verlede al die nasies toegelaat om hulle eie koers te gaan" (\\#Hand 14:16\\), en: "... omdat die Heilige Gees hulle (naamlik Paulus en sy reisgenote) verhinder het om die woord in die provinsie Asië te verkondig. Toe hulle by die grens van Misië kom, het hulle probeer om na Bitinië toe te gaan, maar die Gees van Jesus het hulle dit nie toegelaat nie" (\\#Hand 16:6,7\\). 6. Die Sinode verwerp die dwaling van hulle wat leer: Met die ware bekering van die mens word geen nuwe eienskappe, kragte of gawes in sy wil deur God gestort nie. Daarom is die geloof, waardeur ons die eerste keer bekeer word en gelowiges genoem word, nie 'n eienskap of 'n gawe wat deur God ingestort word nie, maar net 'n daad van die mens. Die geloof kan alleen 'n gawe genoem word vir sover as wat die mens deur sy eie vermoë daartoe kom. Die Sinode leer: Daarmee weerspreek hulle die heilige Skrif, wat getuig dat God nuwe eienskappe van geloof, gehoorsaamheid en die besef van sy liefde in ons harte uitstort: "Ek gee my wet in hulle binneste en skrywe dit op hulle hart ..." (\\#Jer 31:33\\), en: "Want Ek sal water giet op die dorsland en strome op die droë grond; Ek sal my Gees op jou kroos giet ..." (\\#Jes 44:3\\), en "... God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het" (\\#Rom 5:5\\). Hulle is ook in stryd met die voortdurende gebruik van die kerk van God, wat in die woorde van die profeet so bid: "Bekeer my, dan sal ek my bekeer ..." (\\#Jer 31:18\\). 7. Die Sinode verwerp die dwaling van hulle wat leer: Die genade, waardeur ons tot God bekeer word, is niks anders as 'n ligte aansporing nie; of - soos ander dit verklaar - dit wat deur die aansporing plaasvind, is die mees gepaste manier om die mens tot bekering te bring, en pas die beste by die menslike natuur. Daar is geen rede waarom hierdie aansporende genade alleen nie genoeg sou wees om die natuurlike mens geestelik te maak nie. God bewerk die instemming van die wil inderdaad op geen ander manier as deur hierdie aansporing nie. Die krag van die Goddelike werking, waardeur die sataniese werking oortref word, bestaan hierin dat God ewig goeie dinge, maar die Satan slegs tydelike voordele belowe. Die Sinode leer: Dit is suiwer Pelagiaans en in stryd met die hele heilige Skrif, wat, behalwe aansporing, nog 'n ander, baie kragtiger en Goddeliker werkwyse van die Heilige Gees by die bekering van die mens ken: "En Ek sal julle 'n nuwe hart gee en 'n nuwe gees in jul binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle 'n hart van vlees gee" (\\#Eseg 36:26\\). 8. Die Sinode verwerp die dwaling van hulle wat leer: God gebruik by die wedergeboorte van die mens nie daardie kragte van sy almag waardeur Hy die menslike wil kragtig en feilloos tot geloof en bekering ombuig nie. As al die genadewerkinge wat God gebruik om die mens te bekeer, voltooi is, kan die mens nogtans God en die Heilige Gees, wat sy wedergeboorte beoog en hom weergebore wil laat word, só weerstaan - en hy doen dit inderdaad ook dikwels - dat hy sy eie wedergeboorte geheel en al verhinder. Dit bly dus in sy eie mag om weergebore te word of nie. Die Sinode leer: Dit beteken niks anders nie as dat al die krag van die genade van God in ons bekering weggeneem en die werking van die almagtige God aan die wil van die mens onderwerp word. Dit is in stryd met wat die apostels leer: "en hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo" (\\#Ef 1:19\\), en: "Mag ons God julle waardig maak vir die lewe waartoe Hy julle geroep het, en mag Hy deur sy krag julle liefde vir die goeie en die werk van die geloof volkome maak" (\\#2Tes 1:11\\), en: "Sy Goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien" (\\#2Pet 1:3\\). 9. Die Sinode verwerp die dwaling van hulle wat leer: nie genade en die vrye wil is gedeeltelike oorsake wat altwee saam die begin van die bekering bewerk. Die genade gaan in hierdie volgorde ook nie aan die werking van die wil vooraf nie. Dit wil sê: God help die menslike wil nie kragtig tot bekering voordat die menslike wil nie self in beweging kom en daarop besluit nie. Die Sinode leer: Die ou kerk het hierdie leer al lankal by die Pelagiane veroordeel kragtens die woorde van die apostel: "Dit hang dus nie af van 'n mens se wil of strewe nie, maar van God se barmhartigheid" (\\#Rom 9:16\\), net so ook: "Wie maak jou so belangrik? En wat besit jy wat jy nie ontvang het nie?" (\\#lKor 4:7\\), en: "... dit is God wat in julle werk. Hy maak julle gewillig en bekwaam om sy heilige plan uit te voer" (\\#Fil 2:13\\). 14058 \\Hoofstuk 5 Die volharding van die Heiliges\\ 1. Hulle wat God na sy voorneme tot die gemeenskap van sy Seun, ons Here Jesus Christus, roep en deur die Heilige Gees wederbaar, verlos Hy wel van die heerskappy en slawerny van die sonde. Tog verlos Hy hulle in hierdie lewe nie heeltemal van hulle sondige natuur en bestaan nie. 2. Hieruit ontstaan die daaglikse sondes van swakheid, en selfs die allerbeste werke van die heiliges is nog gebrekkig. Daarom moet hulle hulle voortdurend voor God verootmoedig, hulle toevlug tot die gekruisigde Christus neem, die sondige natuur hoe langer hoe meer doodmaak deur die Gees van die gebed en heilige geloofshandelinge, en vurig na die bereiking van die volmaaktheid verlang. So moet hulle volhard totdat hulle, losgemaak van hierdie sterflike liggaam, met die Lam van God in die hemel regeer. 3. Vanweë hierdie oorblyfsels van die inwonende sonde, en ook vanweë die aanvalle van die wêreld en die Satan, kan die bekeerdes nie in die genade volhard as hulle aan hulle eie kragte oorgelaat was nie. Maar God is getrou. Uit barmhartigheid bevestig Hy hulle in die genade wat eenmaal aan hulle gegee is, terwyl Hy hulle ook tot die einde toe kragtig bewaar. 4. Die mag van God, waardeur Hy die ware gelowiges in die genade bevestig en bewaar, is so groot dat hulle nie deur die sondige natuur oorwin kan word nie. Tog word die bekeerdes nie altyd so deur God gelei en beweeg dat hulle - deur hulle eie skuld - in sommige besondere gevalle nie van die leiding van die genade sou kon afwyk en deur die begeerlikhede van die sondige natuur verlei word en dit navolg nie. Daarom moet hulle voortdurend waak en bid dat hulle nie in versoekings gelei word nie. As hulle dit nie doen nie, kan hulle deur hulle sondige natuur, die wêreld en Satan tot groot en gruwelike sondes verlei word. Soms word hulle ook inderdaad, onder die regverdige toelating van God, daartoe verlei. Die droewige val van Dawid, Petrus en ander heiliges, wat vir ons in die heilige Skrif beskryf is, bewys dit. 5. Met sulke growwe sondes vertoorn hulle God vreeslik, verdien hulle die dood en bedroef hulle die Heilige Gees, versteur hulle die oefening in die geloof, verwond hulle die gewete ernstig en verloor hulle soms 'n tyd lank die besef van die genade. Dit gebeur totdat God, wanneer hulle deur 'n opregte berou op die regte pad terugkeer, weer die lig van sy Vaderlike aangesig oor hulle laat skyn. 6. God, wat oneindig barmhartig is, neem, weens die onveranderlike besluit van die uitverkiesing, sy Heilige Gees nie heeltemal van sy eiendom weg nie, selfs nie in hulle jammerlike sondeval nie. Hy laat hulle ook nie só diep val dat hulle uit die genade van die aanneming en uit die staat van die regverdiging uitval nie. Ook laat Hy nie toe dat hulle die sonde tot die dood of teen die Heilige Gees begaan en, heeltemal deur Hom verlaat, hulleself in die ewige verderf stort nie. 7. Wanneer hulle so in die sonde val, bewaar God eerstens in hulle sy onverganklike saad waaruit hulle weergebore is, sodat dit nie vergaan of vernietig word nie. Tweedens vernuwe Hy hulle deur sy Woord en Gees seker en kragtig tot bekering. Die gevolg is dat hulle oor die sondes wat hulle gedoen het van harte en volgens die wil van God berou het en deur die geloof, met 'n gebroke hart, vergifnis in die bloed van die Middelaar begeer en verkry. So besef hulle weer die genade van God wat nou met hulle versoen is, aanbid hulle sy ontferming en trou om daarna met groter ywer hulle eie heil met vrees en bewing uit te werk. 8. Dat hulle nie heeltemal uit die geloof en die genade uitval of ook tot die einde in die sonde bly of verlore gaan nie, verkry hulle nie deur hulle eie verdienste of inspanning nie, maar weens die genadige barmhartigheid van God. As dit van hulle afgehang het, kon dit nie alleen maklik gebeur het nie, maar sou dit ook ongetwyfeld gebeur het. Maar omdat dit van God afhang, kan dit glad nie gebeur nie. Immers, sy raad kan nie verander, sy belofte kan nie verbreek, die roeping na sy voorneme kan nie herroep, die verdienste, voorbidding en bewaring van Christus kan nie kragteloos gemaak word nie, net so min as wat die verseëling deur die Heilige Gees verydel of vernietig kan word. 9. Die gelowiges kan sekerheid hê van hierdie bewaring van die uitverkorenes tot die saligheid en van die volharding van die ware gelowiges in die geloof. Hulle het hieroor sekerheid volgens die maat van die geloof waarmee hulle seker glo dat hulle ware en lewende lidmate van die kerk is en altyd sal bly en dat hulle vergifnis van sondes en die ewige lewe het. 10. Hierdie sekerheid spruit dus nie voort uit enige besondere openbaring wat sonder of buite die Woord plaasgevind het nie, maar uit die geloof aan die beloftes van God wat Hy in sy Woord baie oorvloedig tot ons troos geopenbaar het; uit die getuienis van die Heilige Gees: "Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is. En omdat ons kinders is, is ons ook erfgename. Ons is erfgename van God, mede-erfgename van Christus" (\\#Rom 8:16,17\\), en, laastens, uit die ernstige en heilige strewe na 'n goeie gewete en goeie werke. As die uitverkorenes van God in hierdie wêreld nie hierdie vaste troos het dat hulle die oorwinning sal behou en hierdie onfeilbare pand van die ewige heerlikheid sou besit nie, dan sou hulle die ellendigste van al die mense wees. 11. Voorts getuig die Skrif dat die gelowiges in hierdie lewe teen verskillende sondige vertwyfelings stry en, as hulle in ernstige versoekings kom, nie altyd hierdie volle geloofsvertroue en hierdie sekerheid van die volharding ondervind nie. Maar God, die Vader van alle vertroosting, laat nie toe dat hulle bo hulle kragte versoek word nie, maar gee saam met die versoeking ook die uitkoms (\\#1Kor 10:13\\), en deur die Heilige Gees maak Hy steeds weer die sekerheid van die volharding in hulle wakker. 12. Dit is egter totaal onmoontlik dat hierdie sekerheid van die volharding die ware gelowiges hoogmoedige en sorglose mense sou maak. Inteendeel, dit is 'n ware wortel waaruit die nederigheid, die kinderlike vrees, die ware vroomheid, die volharding in alle stryd, die vurige gebede, die standvastigheid onder die kruis, die standvastigheid in die belydenis van die waarheid en die standvastigheid van 'n blywende vreugde in God spruit. Ook is die oordenking van hierdie weldaad vir hulle 'n aansporing tot ernstige en aanhoudende beoefening van dankbaarheid en goeie werke, soos uit die getuienisse van die Skrif en die voorbeelde van die heiliges blyk. 13. Wanneer die vertroue in die volharding weer lewendig word in hulle wat uit 'n val in sonde weer opgerig word, bring dit geen ligsinnigheid of verwaarlosing van die vroomheid nie, maar eerder 'n baie groter begeerte om nougeset in die paaie van die Here te wandel. Hierdie paaie is vantevore gemaak. Wanneer hulle daarop loop, behou hulle gevolglik die sekerheid van hulle volharding. 'n Verdere gevolg is dat die aangesig van die versoende God - waarvan die aanskouing vir die gelowiges soeter as die lewe en die verberging bitterder as die dood is - nie weer weens hulle misbruik van sy Vaderlike goedheid van hulle afgewend word en hulle só in swaarder gemoedskwellings verval nie. 14. Dit het God behaag om hierdie Goddelike genadewerk deur middel van die verkondiging van die evangelie in ons te begin. So bewaar Hy dit, sit Hy dit voort en voleindig Hy dit deur die aanhoor, die lees en die oordenking van die evangelie, deur die aansporing, vermanings en beloftes daarin en ook deur die gebruik van die heilige sakramente. 15. Hierdie leer van die volharding van die ware gelowiges, dit wil sê die heiliges, en van die sekerheid daaroor, het God tot eer van sy Naam en tot troos van die gelowiges uitvoerig in sy Woord geopenbaar en in die harte van die gelowiges ingeprent. Die sondige natuur verstaan hierdie leer nie, die Satan haat dit, die wêreld bespot dit, onkundiges en huigelaars misbruik dit en dwaalgeeste bestry dit. Die Bruid van Christus het dit egter altyd as 'n skat van onberekenbare waarde innig liefgehad en dit volhardend verdedig. God sal sorg dat die kerk dit ook in die toekoms doen. Teen God kan geen beplanning stand hou nie, nog minder kan geweld iets teen Hom vermag. Aan hierdie enige God, Vader, Seun en Heilige Gees, kom toe eer en heerlikheid tot in ewigheid. Amen. 14059 \\Verwerping van die dwalings oor die leer van die volharding van die\\ \\heiliges\\ Die regsinnige leer is nou uiteengesit. 1. Daarom verwerp die Sinode die dwaling van hulle wat leer: Die volharding van die ware gelowiges is nie 'n vrug van die uitverkiesing of 'n gawe van God wat deur die dood van Christus verwerf is nie. Dit is 'n voorwaarde (soos hulle sê) van die nuwe verbond wat die mens, voor sy finale uitverkiesing en regverdiging, deur sy vrye wil moet volbring. Die Sinode leer: Die heilige Skrif getuig immers dat die volharding die vrug is van die uitverkiesing en dat dit deur die krag van die dood, die opstanding en die voorbidding van Christus aan die uitverkorenes gegee word: "... die uitverkorenes het dit gekry. Die ander is verhard ..." (\\#Rom 11:7; 8:32-35\\): "Hy het sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red. Sal Hy ons dan nie al die ander dinge saam met Hom skenk nie? Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self verklaar hulle regverdig. Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons. Wie kan ons van die liefde van Christus skei?" 2. Die Sinode verwerp die dwaling van hulle wat leer: God gee die gelowige wel genoeg krag om te volhard en is bereid om dit in hom te bewaar, mits die mens sy plig doen. Al is alles wat nodig is om in die geloof te volhard en wat God wil gebruik om die geloof te bewaar, ook in werking gestel, dan nog hang dit altyd van die oordeel van die wil af of die mens sal volhard of nie sal volhard nie. Die Sinode leer: Hierdie mening is duidelik 'n Pelagiaanse dwaling. Terwyl dit die mense vry wil maak, beroof hulle God van sy eer. Dit is ook in stryd met die deurlopende getuienis van die evangeliese leer wat die mens alle stof tot roem ontneem en die lof vir hierdie weldaad alleen aan die genade van God toeskryf. Dit is verder ook in stryd met die uitspraak van die apostel: "Dit is Hy wat julle ook end-uit sal laat vas staan, sodat daar geen aanklag teen julle sal wees op die dag dat ons Here Jesus Christus kom nie" (\\#1Kor 1:8\\). 3. Die Sinode verwerp die dwaling van hulle wat leer: Die ware gelowiges en wedergeborenes kan nie alleen heeltemal en onherroeplik uit die regverdigende geloof, die genade en saligheid uitval nie, maar val inderdaad ook dikwels daar uit en gaan vir ewig verlore. Die Sinode leer: Hierdie opvatting maak juis die genade van die regverdiging en die wedergeboorte en die voortdurende bewaring deur Christus kragteloos. Dit is ook in stryd met die nadruklike woorde van die apostel Paulus: "Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was. Aangesien ons nou geregverdig is deur sy bloed, staan dit soveel vaster dat ons deur Hom ook van die straf van God gered sal word" (\\#Rom 5:8-9\\), en van die apostel Johannes: "Iemand wat 'n kind van God is, doen nie meer sonde nie, omdat die Gees van God in hom bly; en hy kan nie meer sondig nie, omdat hy 'n kind van God is" (\\#1Joh 3:9\\). Net so is dit in teëspraak met die woorde van Jesus Christus: "Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie. Dié wat my Vader vir My gegee het, is die belangrikste van almal, en niemand kan hulle uit die hand van die Vader ruk nie" (\\#Joh 10:28-29\\). 4. Die Sinode verwerp die dwaling van hulle wat leer: Die ware gelowiges en wedergeborenes kan die sonde tot die dood of dié teen die Heilige Gees begaan. Die Sinode leer: Dieselfde apostel Johannes, nadat hy in \\1Jo 5:16-17\\ melding gemaak het van hulle wat tot die dood sondig, en dit verbied het om vir hulle te bid, voeg dadelik in v 18 daarby: "Ons weet dat iemand wat 'n kind van God is, nie meer sondig (naamlik met so 'n sonde) nie, maar die Seun van God bewaar hom, en die duiwel kry geen houvas op hom nie" (\\#1Joh 5:18\\). 5. Die Sinode verwerp die dwaling van hulle wat leer: 'n Mens kan in hierdie lewe geen sekerheid van die toekomstige volharding sonder 'n besondere openbaring besit nie. Die Sinode leer: Deur hierdie leer word die vaste troos wat die ware gelowiges in hierdie lewe het, weggeneem en die twyfel van die pousgesindes weer in die kerk ingevoer. Die heilige Skrif lei egter hierdie sekerheid nie telkens uit 'n besondere en buitengewone openbaring af nie, maar uit die kenmerke wat aan die kinders van God eie is, en uit die standhoudende beloftes van God. Dit kom veral na vore by die apostel Paulus in Romeine 8:39: "of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here", en by Johannes: "Wie sy gebooie gehoorsaam, bly in God en God in hom. Hiéraan weet ons dat Hy in ons bly: Hy het ons sy Gees gegee" (\\#1Joh 3:24\\). 6. Die Sinode verwerp die dwaling van hulle wat leer: Die leer van die sekerheid van die volharding en van die saligheid is, kragtens sy eie aard en wese, 'n kussing vir die sondige natuur en skadelik vir die vroomheid, goeie sedes, gebede en ander heilige handelinge. Daarteenoor is dit selfs lofwaardig om daaraan te twyfel. Die Sinode leer: Daarmee wys hulle immers dat hulle die krag van die Goddelike genade en die werking van die Heilige Gees wat in ons woon nie ken nie. Ook weerspreek hulle die apostel Johannes wat met uitdruklike woorde die teendeel in sy eerste brief leer: "Geliefdes, ons is nou reeds kinders van God. Dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie, maar ons weet dat, wanneer Jesus kom, ons soos Hy sal wees. Ons sal Hom sien soos Hy werklik is. Elkeen wat hierdie verwagting in verband met Hom koester, hou homself rein soos Jesus rein is" (\\#1Joh 3:2,3\\). Buitendien word hulle weerlê deur die voorbeeld van die heiliges van die Ou en Nuwe Testament. Hoewel hulle van hulle volharding en saligheid seker was, het hulle nogtans in die gebede en ander geloofshandelinge volhard. 7. Die Sinode verwerp die dwaling van hulle wat leer: Die geloof van hulle wat slegs 'n tyd lank glo, verskil net in tydsduur van die regverdigende en saligmakende geloof. Die Sinode leer: Christus stel immers self duidelik in \\Mat 13:20\\ en \\Luk 8:13\\ en volgende verse nog 'n drieledige onderskeid vas tussen hulle wat net 'n tyd lank glo en die ware gelowiges. Hy sê: Eersgenoemdes ontvang die saad op rotsagtige grond, maar die gelowiges in goeie grond of in goeie harte; eersgenoemdes is sonder wortel, maar die gelowiges het 'n vaste wortel; eersgenoemdes dra nie vrug nie, maar die gelowiges dra met standvastigheid of volharding in verskillende mate hulle vrugte. 8. Die Sinode verwerp die dwaling van hulle wat leer: Dit is nie ongerymd dat die mens sy eerste wedergeboorte verloor en daarna weer, selfs baie keer, weergebore word nie. Die Sinode leer: Met hierdie leer ontken hulle die onverderflikheid van die saad van God waardeur ons weergebore word, en kom hulle in stryd met die getuienis van die apostel Petrus: "Julle is immers weergebore, nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike saad ..." (\\#lPet 1:23\\). 9. Die Sinode verwerp die dwaling van hulle wat leer: Christus het nêrens gebid dat die gelowiges in die geloof onfeilbaar sou volhard nie. Die Sinode leer: Hulle weerspreek Christus self, wat sê: "Maar Ek het vir jou gebid (Petrus) dat jou geloof jou nie begewe nie" (\\#Luk 22:32\\); en die evangelis Johannes, wat getuig dat Christus nie alleen vir die apostels gebid het nie, maar ook vir almal wat deur hulle woord sou glo: "Heilige Vader, bewaar hulle in u Naam ..." en: "Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld moet wegneem nie, maar dat U hulle van die Bose moet bewaar" (\\#Joh 17:11; 15; 20\\).